Melgisedek: Daar ís alternatief

Tussen die verbrokkelende mure van Melgisedek – ʼn gebou in Pretoria wat nou al ʼn berugte simbool van stedelike verval geword het – hang die reuk van rook en onsekerheid swaar in die lug.

Agter die gebou staan ’n verlate trugrawer, vermoedelik die eiendom van die Tshwane-metro, as ’n stille getuie van ’n ontruimingsproses wat tot stilstand gekom het.

Dít terwyl daar net enkele kilometer hiervandaan, in Gezina, ʼn verlate tydelike tentedorp staan. En plek-plek is daar verbleikte kolle gras waar sommige van die tente in ʼn stadium gestaan en nou onverklaarbaar verdwyn het.
Maroela Media het tydens ʼn onlangse besoek aan die perseel nege van dié oop ruimtes gesien. Ander tente was merkbaar verinneweer.